Vir mediapersoonlikheid Liezel van der Westhuizen lê daar in Augustus vanjaar haar grootste uitdaging nóg voor, wanneer sy saam met Cindy Jacobsz ‘n fietsrytog van 500km deur die magtige Himalaya-gebergtes op ‘n tandemfiets aanpak. Wat die geleentheid nog meer uitsonderlik maak, is die feit dat die wedloop insluitend van aard is in die sin dat dit voorsiening maak vir deelname deur gesiggestremde atlete.

Cindy is op 16-jarige ouderdom met Makulêre Degenerasie (Stargardt se siekte) gediagnoseer, wat uiteindelik tot blindheid lei. Ten spyte van dié terugslag het sy steeds merkwaardige prestasies behaal.

Ek voel baie geëerd en opgewonde dat Cindy my gevra het om saam met haar te ry. Sy is ‘n merkwaardige atleet wat ondanks die uitdagings wat blindheid inhou, haar nasionale kleure vir fietsry verwerf het. Ek sal moet uithaal om by te bly,” het Van der Westhuizen gesê.

Die wedren, wat van 18 tot 30 Augustus in die Himalayas sal plaasvind, begin in Manali waarna die fietsryers meer as 3 500 meter sal klim om uiteindelik in Khardung La klaar te maak. Dit is ‘n unieke geleentheid deurdat nie net gesiggestremde fietsryers nie, maar ook vyf deelnemers met amputasies die elemente as deelnemers sal trotseer.

Dit is die ervaring van ‘n leeftyd en ek sal baie graag soortgelyke geleenthede in Suid-Afrika vir blinde fietsryers wil reël, sodat meer blinde en gesiggestremde deelnemers die geleentheid kan kry om bergfietswedrenne en die natuurskoon van Suid-Afrika te geniet. Ek skep bewustheid deur atlete met visuele uitdagings aan te moedig om aan sport deel te neem en sodoende hul drome te verwesenlik en doelwitte te bereik,” sê Jacobsz.

Sowel Van der Westhuizen as Jacobsz is uiters passievol oor filantropie en het besluit om die buitelandse wedren te benut om geld in te samel vir twee mediese liefdadigheidsorganisasies, naamlik ‘Operation Smile South Africa’ en ‘OneSight’. Eersgenoemde se doelwit is om gratis chirurgie te bied aan kinders en volwassenes wat met ‘n haaslip of ‘n gesplete verhemelte gebore is, terwyl OneSight se doel is om dienste vir die regstelling van refraktiewe foute te bied, sowel as om voorskrifbrille te verskaf aan diegene wat nie toegang het tot bekostigbare oogsorg nie.

“Hierdie wedren gaan allermins net oor ons. Dit is vir ons ‘n geleentheid om met elke trapslag werklik ‘n verskil te maak en dus was dit ‘n natuurlike besluit om hierdie twee ongelooflike liefdadighede te ondersteun, wat mense basies in staat stel om te glimlag en ander weer help om húlle te sien,” verduidelik Van der Westhuizen.

Die fietsryers is verantwoordelik vir al hul eie vervoer, verblyf en reiskoste en sal graag verneem van enigeen wat bereid is om hierdie waardige poging te steun.